OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het Woensdag gereageer op aantygings van inwoners dat hulle gedwing word om na koopkrag oor te skakel.
Die Oudtshoorn Courant het sowat twee weke gelede 'n navraag gestuur nadat 'n inwoner aangevoer het dat sy deur die munisipaliteit geïntimideer word en daar gedreig word om haar huis se kragtoevoer af te skakel.
Die persoon het verskeie voorbeelde van korrespondensie tussen haar en die munisipaliteit aan die koerant gestuur. Volgens haar wil die munisipaliteit inwoners tot wie se persele meterlesers nie toegang het nie, dwing om koopkrag te laat installeer.
"Ons rekening is ten volle betaal, so daar is vir my geen rede om oor te skakel na koopkrag nie. Ek gaan ook nie toelaat dat munisipale amptenare my intimideer nie," het sy gesê. Volgens haar is daar 'n hele aantal inwoners wat deur die munisipaliteit in kennis gestel is dat hulle kragtoevoer afgesny gaan word indien hulle kontrakteurs nie toelaat om koopkragmeters op die munisipaliteit se koste te installeer nie. Die vrou en haar man het 'n finale kennisgewing ontvang dat tegnici gister by die eiendom sou wees om die oorskakeling te doen. Sy het Woensdag gesê sy gaan toegang weier aangesien sy nie koopkrag wil hê nie.
Volgens die munisipaliteit is hulle reeds sedert April besig met korrespondensie met 'n aantal inwoners oor die kwessie. Volgens 'n verklaring van die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, is 50 huishoudings geïdentifiseer waar meterlesers vir langer as 'n jaar geen toegang kon kry nie, en waar lesings derhalwe dikwels geskat moes word.
Dit blyk dat 42 van die eienaars ingestem het tot die oorskakeling, maar dat agt nie wil toegee nie.
Volgens Mangqwengqwe is daar 'n besluit geneem dat eienaars wat steeds weier om die oorskakeling te laat doen, finale kennisgewings ontvang waarna kragtoevoer afgesny sal word indien hulle nie saamwerk nie.
"Dit is betreurenswaardig dat die verbruikers volhard met hul weerstand teen die vervanging wat binne die regte van die munisipaliteit uitgevoer staan te word, en daarmee veroorsaak dat 'n ontsettende groot hoeveelheid tyd en hulpbronne vermors word om die aangeleentheid te finaliseer en te reageer op herhalende korrespondensie en navrae. Die munisipaliteit gaan nietemin voort met die uitvoering van sy verantwoordelikheid binne die wetgewende raamwerk in hierdie verband," lui 'n gedeelte van die verklaring.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'