OUDTSHOORN NUUS - Terwyl Oudtshoorn se sakekern wemel van selfaangestelde motorwagte, bedelaars en mense wat doelloos ronddwaal, is vier amptelike motorwagte onlangs met R1 000 elk beboet.
Die vier wat deel is van 'n groep van ongeveer 20 wat amptelik as karwagte geregistreer is, doen op verskeie plekke op Oudtshoorn diens.
Volgens Adré van der Mescht, wat reeds 'n jaar lank 'n bekende en vriendelike gesig in die tweede parkeerarea by Checkers is, was die optrede van die polisie en wetstoepassers voorverlede Dinsdag heeltemal onverwags en sonder enige vooraf waarskuwing.
"Toe die lockdown begin het, het ons almal die reëls nagekom en by die huis gebly. Terwyl ons by die huis was het straatkinders, bedelaars en selfaangestelde karwagte egter oral begin opduik." Sy sê hulle het uit nood besluit om met die aankondiging van vlak 4 weer te begin werk.
"Ek was verstom om te sien hoeveel leeglêers en rondlopers by Checkers was en mense wat draadwerk en verestoffers verkoop het ook op die parkeerterrein besigheid gedoen. Die wetstoepassers en polisie het dikwels verbygery en niks gedoen nie."
Sy sê wetstoepassers het vir 'n hele paar dae verbygery en selfs met haar gepraat. "Hulle het selfs vir my gevra wie is die mense wat nie amptelik daar mag wees nie, en ek het gedink hulle gaan sorg dat die onwettiges vasgevat word."
Volgens haar het verskeie wetstoepassers en polisievoertuie egter voorverlede Dinsdag opgedaag en mense begin inlaai. "Hulle het eers vir my gevra of ek amptelik is, maar toe kom hulle terug en laai my ook in 'n vangwa."
'n Selfaangestelde motorwag en mense wat doelloos in parkeerterreine rondhang.gaan skynbaar onverhinderd deur die inperking. Foto verskaf
Sy sê hulle het haar alleen ingelaai omdat sy die enigste vrou was, maar in 'n ander vangwa is 'n hele klomp mans saam ingelaai. Hulle is polisiestasie toe geneem waar vier van hulle boetes van R1 000 elk van 'n wetstoepasser ontvang het. "Waaroor ons egter baie ontevrede is, is die feit dat die rondlopers en die wat sommer op hulle eie as 'karwagte' optree net 'n waarskuwing ontvang het."
Sy sê sy weet dat hulle nie amptelik toestemming gekry het om te werk nie, maar dat die reëls dan konsekwent toegepas moet word.
"Waarom word daar op ons wat volgens riglyne werk gefokus terwyl die wat vir mense probleme gee, kan aangaan soos hulle wil. Dit is nie regverdig nie."
Van der Mescht sê wat verder teleurstellend is, is dat 'n polisie-offisier kort voor die inperking tydens die amptelike motorwagte se weeklikse vergadering, benadruk het dat onwettige motorwagte en bedelaars verwyder sou word.
Volgens haar moet die boetes teen 1 Julie betaal word andersins moet hulle op 16 Julie in die hof verskyn. Sy het bygevoeg dat 'n plaaslike prokureur aangebied het om na die kwessie te kyk om te bepaal of die boetes regverdig is.
Die Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan die polisie gestuur, maar geen bevestiging van die voorval of inligting is ontvang nie, behalwe 'n boodskap van sers. Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, dat boetes deur munisipale wetstoepassers uitgereik is. 'n Navraag is aan die munisipaliteit gestuur, wat gesê het dat dit aan die relevante departement gestuur is.
Adri van der Mescht op haar pos in die parkeerarea naby Checkers.
Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'