OUDTSHOORN NUUS - 'n Nuwe inwoner van Oudtshoorn het Donderdagaand, 13 Maart, 'n oomblik van angs beleef toe sy voertuig se voorruit naby die Mosselbaai-afdraai met 'n baksteen gegooi is.
Die bestuurder van die voertuig verkies om anoniem te bly.
Johann Schoeman, die pa van die jong bestuurder, vertel dat sy seun Maandag na Oudtshoorn verhuis het en tans in Volmoed woon.
"Hy was op pad huis toe na 'n rugbyoefening, toe die voorval omstreeks 20:00 plaasgevind het.
Dit was pikdonker en hy het niemand langs die pad gesien nie. My seun sê die baksteen het skielik van sy regterkant af gekom en op sy voorruit geland. Hy het so groot geskrik dat hy van die pad af gery het, maar gelukkig het hy beheer behou en die motor terug op die pad bring." Schoeman sê sy seun was erg geskok en besef hy kon ernstig beseer of selfs dood gewees het as hy nie kalm gebly het nie. Hulle is onseker oor die motief agter die voorval.
"Ons weet nie of dit 'n poging tot 'n kaping was nie, maar dit bly 'n gevaarlike situasie. Ons wil ander motoriste waarsku om ekstra versigtig te wees wanneer hulle saans op daardie pad ry."
Volgens Schoeman is 'n klag by die polisie ingedien.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het bevestig dat Oudtshoorn-speurders 'n saak van opsetlike saakbeskadiging ondersoek.
"Daar word beweer dat die man langs die R62 tussen Calitzdorp en Oudtshoorn gery het toe sy voertuig met 'n klip getref is wat die voorruit beskadig het."
Die ondersoek duur voort.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’