OUDTSHOORN NUUS - 'n Onverwagte massarit deur bykans 100 motorfietse het die vrywilligers van die Oudtshoorn-diereskut Sondag oorweldig. Volgens Colleen Smith van Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) was die rit die uitvloeisel van 'n plasing op die Facebook-blad van Kingswood Golf Estate, George.
Die blad het 'n versoek om skenkings vir Odin geplaas en Tinus Linde van die Excalibur-motorfietsklub het daarop reageer.
Smith sê Linde het al die motorfietsklubs in die streek genader om deel te neem aan 'n Blanket and food run.
"Ons het hoendervleis gekry toe ongeveer 100 motorfietse en ander voertuie vol voorraad Sondag by die skut opdaag," het sy gesê. Die skut word hoofsaaklik deur Odin gebruik om diere wat uit hulle omstandighede gered is, te huisves totdat hulle na die aannemingseenheid in Blanco by George oorgeplaas kan word. Odin werk oor 'n wye area wat strek vanaf Uniondale, Dysselsdorp en Oudtshoorn tot by Pletten-bergbaai en Albertinia.
Vrywilligers was die afgelope naweek juis besig om die skut te versier en op te ruim toe die motorfietse arriveer. Volgens Smith het die groep meer as 'n ton honde- en katkos sowel as hope komberse geskenk. Daar was ook kontantbydraes wat gebruik word om kos vir jong hondjies aan te koop.
Die voorraad sal verdeel word tussen die skut en verskeie ander projekte.
Die toekoms van die skut is tans 'n onderwerp van bespreking in die gemeenskap aangesien die munisipaliteit oorweeg om dit na 'n stuk grond naby die munisipale store in Dassieweg te skuif. Hierdie plan ontlok tans hewige teenkanting van die gemeenskap sowel as van vrywilligers wat by die skut werk. Na afloop van 'n komiteevergadering hierdie week sal 'n navraag oor die kwessie aan die munisipaliteit gerig word.
Pakke en pakke kos word uitgepak
Motorfietsryers arriveer Sondag by die skut.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'