Update
OUDTSHOORN NUUS - Nooddienswerkers is dit eens dat die beserings wat 'n motorfietsryer verlede Donderdag in Meiringspoort in 'n ongeluk opgedoen het, baie erger kon wees.
Pastoor Adriaan Graaff (56), was verlede Donderdag deel van 'n groep motorfietsryers toe hy by Wadrif in Meiringspoort van die pad gery en met sy 1600 BMW meters na benede gestort het en op groot rotse in die rivierloop te lande gekom het.
Sy vrou, Leza, en hulle agtjarige dogtertjie was in 'n motor agter die motorfietsryers.
'n Ambulans wat toevallig vanaf Beaufort-Wes na Oudtshoorn onderweg was het op die ongeluk afgekom en Graaff hospitaal toe geneem.
Aanvanklike inligting wat deur die Oudtshoorn Courant bekom was, was dat Graaff nie ernstig beseer is nie. By die hospitaal is egter ontdek dat, behalwe vir gesigsbeserings, verskeie ribbes ook gebreek was en dat hy ook inwendige beserings opgedoen het.
Hy is na die Life Bay View Hospitaal op Mosselbaai oorgeplaas waar hy in die hoësorgeenheid opgeneem is. Die groep motorfietsryers was vanaf Kimberley na Mosselbaai onderweg en sou Sondag weer teruggekeer het.
Leza Graaff het Woensdagoggend gesê dit gaan beter met haar man, maar hy was toe nog steeds in die hoësorgeenheid. Sy het gesê sy weet nie hoe lank hy nog daar moet bly nie.
"Baie dankie aan almal wat aan ons dink en hou Adriaan steeds in julle gebede." Volgens haar weet hulle nie hoe die ongeluk gebeur het nie aangesien die groep nie vinnig deur die poort gery het nie.
Die motorfiets tussen die rotse waarop die motordietsryer geval het.
Vorige artikel: Motorfietsryer in hoësorgeenheid
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'