Update
OUDTSHOORN NUUS - Een van die twee motorfietsryers wat Sondagmiddag in 'n ongeluk op die grottepad betrokke was, is Sondag reeds uit die hospitaal ontslaan en die ander een het Maandag 'n operasie ondergaan.
Volgens Garnett Wicomb, oupa van die 18-jarige Garnett Junior het sy kleinseun en Derick Trimm (51) agter mekaar op hulle motorfietse gery toe die fietse op los klippies in 'n draai by Ou Tol gegly het.
Die motorfietsryers het 'n veiligheidsreling langs die pad getref. Die een motorfiets en die ryer het aan die anderkant van die reling te lande gekom terwyl die tweede motorfiets en ryer in die pad beland het nadat die veiligheidsreling getref is. 'n Derde motorfietsryer wat agter hulle gery het kon die ongeluk vermy en het sowat 20 meter verby die ongeluk stilgehou.
Mense wat by Ou Tol was en bewoners van arbeidershuise waar die ongeluk plaasgevind het, was onmiddellik op die toneel om hulp te verleen.
Volgens een van die inwoners van Ou Tol wat self motorfietse besit, lê daar gereeld klippe en gruis op die spesifieke draai.
Die twee motorfietsryers is per ambulans hospitaal toe geneem terwyl familielede en vriende van Oudtshoorn die twee beskadigde motorfietse op 'n bakkie gelaai het. Trimm het sy enkel verstuit en Garnett jnr het 'n fraktuur aan sy bobeen opgedoen. Hy het Maandag 'n operasie ondergaan en 'n staalpen is in sy been gesit.
Terwyl Oudtshoorn Courant op die toneel was, was daar gesinslede van Trimm en Wicomb wat nog nie van die ongeluk bewus was nie. Derhalwe is daar eers sowat 'n uur later daaroor berig nadat bevestiging ontvang is dat daar nie ernstige beserings was nie en dat al die gesinslede oor die ongeluk ingelig is.
Die motorfietsryers was vanaf die grotte se kant af na Oudtshoorn onderweg toe die ongeluk gebeur het.
Sowat twee jaar gelede het 'n pa en seun op dieselfde pad sowat twee kilometer van Ou Tol af ook op twee motorfietse die pad verlaat en naby mekaar geval. Hulle was destyds met vakansie en het verskeie beserings opgedoen.
Vorige artikel: Twee motorfietse in ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'