Update
OUDTSHOORN NUUS - Die motorfietsryer wat Vrydagmiddag in 'n botsing in St Johnstraat betrokke was, ondergaan hierdie week 'n operasie vir 'n beenfraktuur.
Lu-Shane Uithaler (22) het Vrydagmiddag by die kruising van St John- en St Georgesstraat met sy bromponie teen 'n aflweringsvoertuig vasgery.
Hy het sy bewussyn tydens die botsing verloor.
Volgens sy ma, Elizabeth Uithaler, is hy na die George-hospitaal oorgeplaas en hy het Saterdagoggend sy bewussyn herwin.
Sy het vanoggend aan die Oudtshoorn Courant gesê hulle weet nog nie presies wat die aard van die operasie is nie en wag dat die dokter hulle kontak.
Die Uithaler-gesin woon ongeveer 30 km buite Oudtshoorn en Lu-Shane het elke dag met sy bromponie heen en weer gery. Hy werk by 'n onderneming in Oudtshoorn.
Vorige artikel: Motorfietsryer beseer tydens botsing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'