Update
OUDTSHOORN NUUS - Die jong vrou wat Maandagoggend met haar bromponie in 'n botsing met 'n motor betrokke was, het nie ernstige beserings opgedoen nie.
Die botsing het by die kruising van Baron van Reede- en Kerkstraat plaasgevind.
Die motorfietsryer was met Baron van Reedestraat onderweg toe 'n rooi Opel Monza, wat vanaf die teenoorgestelde rigting gekom het, voor haar ingedraai het.
Sy het die motor voor op die regterkant getref. Paramedici het haar op die toneel behandel en hospitaal toe geneem.
Volgens 'n familielid, wat haar op die toneel bygestaan het, het die vrou pas haar suster by die werk afgelaai en was sy alleen op die bromponie tydens die botsing.
Die bestuurder het op die toneel gesê hy het die aankomende bromponie se spoed onderskat en gedink hy sou kon draai voordat sy in die kruising is. Die man het gesê hy het die motor minder as 'n maand gelede gekoop.
Volgens hom het hy groot geskrik en aanvanklik 'n ent aangery, maar toe omgedraai na die toneel toe.
Daar was kommer dat die motorfietsryer haar nek beseer het en sy is as voorsorgmaatreël vir 'n skandering van haar nek na die George-hospitaal geneem.
'n Familielid het egter Dinsdag gesê daar was geen skade aan haar nekwerwels nie. Sy is laat Dinsdagmiddag uit die hospitaal ontslaan. Die bromponie is onherstelbaar beskadig.
Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit is albei bestuurders gedagvaar aangesien nie een van hulle rybewyse kon toon nie.
Paramedici by die beseerde motorfietsryer voordat sy in die ambulans gelaai is.
Vorige artikel: Jong motorfietsryer beseer
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'