OUDTSHOORN NUUS - 'n Gr. 3-leerder van Laerskool Dysselsdorp was vir twee dae in die hospitaal nadat hy Maandag deur 'n motor omgery is.
Eldino Jooste (9) was van die skool af op pad huis toe toe hy in Gelantstraat raakgery is.
Volgens sy ma, Maria Moos, was hulle geskok toe hulle die nuus kry.
"Ek en my man werk in die Langkloof op 'n plaas. Eldino woon by sy ouma in Dysselsdorp. Ons is omtrent halfeen van die toneel af gebel en die mense het vir ons gesê hy lê in die straat. Ons het reëlings by die werk getref en het dadelik gery.
Ons het halfdrie gebel om te hoor by watter hospitaal my kind is en die mense het vir my gesê dat die ambulans nog nie opgedaag het," het sy gesê.
Volgens Moos het die ambulans eers een en 'n halfuur na die ongeluk, net voor 15:00 by haar seun aangekom.
"Ons het van die Langkloof af gery en saam met die ambulans by die hospitaal gestop," het sy vertel.
Moos sê haar hart was in stukke toe sy haar seun sien.
"Sy mond het erg gebloei. Ek het regtig gedink hy het ernstig seergekry. Ek kan nie verstaan waarom die ambulans so lank geneem het om by my kind uit te kom nie. Wat as hy dit nie gemaak nie omdat hulle te lank geneem het?"
Volgens haar het sy enkel sleg seergekry en het hy ook kopbeserings opgedoen.
Volgens ao. Stephen Terblanche, waarne-mende stasiebevelvoerder van Dysselsdorp-polisie, word 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.
"Dit blyk dat die bestuurder wel probeer stop het, want daar was remmerke op die teer. Hy was ook op die toneel toe die polisie opgedaag het."
Die Oudtshoorn Courant het 'n navraag oor die reaksietyd van die ambulans aan die gesondheidsdepartement gestuur. Teen saktyd is geen reaksie ontvng nie.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'