OUDTSHOORN NUUS - 'n Motoris was Dinsdagmiddag gelukkig om ernstige beserings vry te spring toe die motor waarin hy gery het onder 'n bewegende vragmotor beland het.
Die vragmotor, wat in die regterkanste baan van Voortrekkerweg was, het by Randstraat na links gedraai sonder dat die bestuurder besef het daar is twee motors links van die vragmotor nie. Die voorste motor, 'n Toyota het onder die vragmotor beland en die dieseltenk getref.
Met die impak het die tenk geskeur en die diesel het in Voortrekkerweg en Randstraat uitgeloop. 'n honda Ballade wat agter die Toyota was, kon daarin slaag om betyds uit te swaai, maar het die sypaadjie getref.
Die bestuurder van die Toyota, Rietdaah (Gamat) Ganief het gesig-, nek- en skouerbeserings in die ongeluk opgedoen.
Ganief sê hy en Farren Campher, wat die Honda bestuur het,was op pad hospitaal toe.
"Ek het 'n ander man wat by die hospitaal was, se kar gery. Ons sou daarvandaan verkeersdeparterment toe gegaan het. Toe ons Voortrekkerweg afkom het die lorrie na die buitebaan beweeg. Ek en Farren het in die linkerbaan gebly. Ek het langs die trok inbeweeg om verby te ry. Net toe ek by die trok se kop kom het hy skielik voor my ingeswaai. Ek was lam van skrik en het gerem. Ek kon egter nie betyds stop nie en die kar is vas teen die dieseltenk. My veiligheidsgordel het met die impak morsaf geskeur. Ek is teen die vooruit van die kar vas. Ek is gelukkig dat die kar nie onder die trok se wiele beland het nie. Dit was 'n verskriklike ervaring gewees. My skouer het uit potjie geruk en dan het my nek ook seergekry. My gesig het ook hard teen die voorruit gekap."
Die Toyota en vragmotor het Dinsdag in Voortrekkerweg gebots. Foto's: Hein Coetzee
Campher sê hy kon het in ongeloof toegekyk wat gebeur het. "Die vragmotor het skielik links gedraai sonder dat die flikkerligte aan was.
Ek moes ook inderhaas rem en sypaadjie toe ry om 'n botsing te vermy. My kar het ook seergekry aan die linkerkant."
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshorrn-polisie sê geen klag word ondersoek word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'