Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - 'n Ondersoekbeampte van die Mosselbaai polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) is Vrydagaand as die beste GKS-ondersoekbeampte in die Wes-Kaap aangewys.
Adjudant Offisier Alistair Rezant het dié gesogte toekenning gewen en het stof in ander ondersoekbeamptes van die 25 GKS-eenhede in die provinsie geskop.
Die geleentheid het in Wellington plaasgevind.
Rezant is bekend vir sy onwrikbare passie om sake wat verband hou met onder meer verkragting, seksuele aanranding en gesinsgeweld op te los en misdadigers aan die pen te laat ry.
Hy het jare se ervaring en was een van die stigterslede van die GKS op Mosselbaai in 2003.
Eenheidsbevelvoerder kapt Franco Bestbier sê Rezant is een van die hardwerkendste ondersoekbeamptes wat hy nog ontmoet het.
"Hierdie is 'n erkenning vir harde werk en toewyding," sê Bestbier.
Rezant sê hy was onkant gevang met die toekenning. "Ek het dit regtig nie verwag nie en is baie dankbaar om erkenning te kry."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’