OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee mans van Bongolethu, wat van moord aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof van die hofrol geskrap omdat ‘n getuie nie gedagvaar is om hof toe te kom nie.
Die twee verdagtes, Luthando Otto en Lwasi Maxongo, word van die moord op Abriel van Wyngaardt aangekla wat die aand van 21 Maart 2020 in Lappertstraat, Bridgton, met ‘n mes doodgesteek is.
Otto het in ‘n beëdigde verklaring, voordat Maxongo aangekeer is, erken dat hy Van Wyngaardt gesteek het.
Hy was na bewering saam met nog twee mans in ‘n motor wat op soek was na persone wat glo vroeër die aand moeilikheid by ‘n geselligheid gemaak het en die oorledene is glo verkeerdelik aangesien as een van die beweerde moeilikheidmakers.
Otto se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die staat se versoek om verdere uitstel teengestaan omdat die traagheid van die polisie om getuies te dagvaar onverskoonbaar is. Die voorval het reeds meer as twee jaar gelede plaasgevind.
Streeklanddros Sylvia Mandla het aan die verdediging se versoek voldoen en die saak van die hofrol geskrap omdat die beskuldigdes geregtig is op ‘n spoedige verhoor.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'