PRINS ALBERT NUUS - Die verhoor van 'n man en drie vroue van Prins Albert wat van moord aangekla word kan nou voortgaan nadat die man na maande uiteindelik opgespoor is.
Die saak teen die Fiola Philida Scheffers (33), Amelda Katzen (29) en Geraldine Katzen (22) is op 12 Maart deur streeklanddros Retha Pretorius van die hofrol verwyder omdat die vierde verdagte, Jaco Guga (23), weer nie by die hof was nie.
Guga is uiteindelik verlede week gearresteer toe hy na 'n lang tyd weer sy opwagting in Prins Albert gemaak het.
Hy het Vrydag aan die landdros gesê dat hy van selfoon verander het en dit die rede is waarom hy nie gekontak kon word nie.
Die landdros wou weet wat hy sedert November 2017 gedoen het om uit te vind wat van die saak geword het.
Hy kon haar nie 'n bevredigende antwoord gee nie en 'n boete van R1 000 of drie maande gevangenisstraf opgelê.
Die hof het toe gelas dat die saak teen die drie vroue weer teruggeplaas word op die hofrol vir verhoor.
Die saak teen die vier spruit uit 'n bakleiery op 2 Maart 2013 in Muisvoëlstraat, Prins Albert, waartydens 'n jong vrou, Ellen Piedt, se kop teen 'n muur gekap is, sy geskop en getrap is, met die vuiste geslaan en met klippe of 'n baksteen gegooi is.
Sy het later aan haar beswerings beswyk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'