PRINS ALBERT NUUS - Die saak van ’n man en drie vroue van Prins Albert wat van moord aangekla word, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn streekhof voorlopig vir verdere verhoor tot later die maand uitgestel.
Die saak teen Jaco Guga, Fiola Scheffers, Amelda Katzen en Geraldine Katzen, spruit uit drie voorvalle byna sewe jaar gelede, op 1 en 2 Maart 2013, wat gelei het tot die dood van Ellen Piedt, Guga se saamleefmaat, wat glo geskop, getrap, met die vuiste geslaan, haar kop teen ‘n muur gekap, en sy glo ook met klippe of ‘n baksteen gegooi is.
Die eerste staatsgetuie, Janine Paulsen (23), het getuig dat sy gesien het hoedat Guga die oorledene se kop in ‘n taverne meer as twee keer so hard teen ‘n muur kap dat sy die trillings in haar rug kon voel.
Toe sy Guga daaroor aanspreek het hy glo gedreig om haar ook te klap.
Johanna Arends (44) het getuig dat sy die oggend van 2 Maart 2013 mense in die straat hoor skel en duidelik die oorledene se stem kon identifiseer.
Sy is na buite en kon sien hoe drie vroue die oorledene jaag.
Christine Lottering (53) het getuig dat sy gesien het hoedat Guga die oorledene onder ‘n lamppaal skop en sy op die grond val. Sy kon ook sien hoedat Guga die oorledene na hul blyplek sleep.
Wenzel Botha verskyn in opdrag van die regshulpraad vir Guga en adv Stephen Lourens vir die drie vroue.
Elaine Plaatjies is die aanklaer.
Die saak word deur streeklanddros Ntsoki Moni aangehoor en is na die sluiting van die staat se saak vir die getuienis van ‘n staatsgetuie wat die staat aan die verdediging beskikbaar gestel het, uitgestel tot 28 Mei 2020.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'