Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bridgton, Oudtshoorn, is in die streekhof 18 jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy aan moord skuldig bevind is.
Klaas Pieterse is daarvan aangekla dat hy op 15 September 2019 vir Jan Botha in Smartie Town met 'n byl gekap en met 'n mes gesteek het.
Hy het onskuldig gepleit op die aanklag van moord. Hy het in 'n pleitverduideliking erken dat hy die betrokke dag op die toneel was en Botha uit selfverdediging met 'n mes gesteek het.
'n Ooggetuie, Andrew Boesak, het getuig dat hy en sy neef, Willem Korkee, op pad was na Bakenskraal toe hulle die oorledene langs die pad raakgeloop het.
Hy het terselfdertyd ook vir Pieterse sien aankom met 'n byl in die een hand en 'n mes in die ander.
Die beskuldigde het toe glo aan hulle gesê: "Julle wil nie sien wat nou gaan gebeur nie." Daarna het hy vir Botha gevra: "Wat het ek vir jou verlede week gesê"?
Die woordewisseling het volgens Boesak oor 'n vrou gegaan.
Terwyl die oorledene agteruit beweeg het, het die beskuldigde drie keer met die byl na hom gekap. Hy kon hoor hoe Botha die beskuldigde waarsku dat hy tronk toe kan gaan. Hy kon ook hoor dat die beskuldigde vir Botha sê dat hy hom sal "vrek" maak. Pieterse het toe die mes uitgehaal en toe die oorledene weghardloop kon hy die bloed agter sy rug sien. Hy kon nie die steekhou sien nie, het Boesak getuig. Volgens Boesak het die oorledene nie enige wapen gehad nie.
Die staatsaanklaer Willem Vister, het die hof vir skuldigbevinding gevra omdat dit duidelik is dat Pieterse se lewe nie in gevaar was nie en hy nie homself verdedig het nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het Pieterse se verweer verwerp en hom ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Vorige artikel: Moordenaar moet 18 jaar sit
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'