OUDTSHOORN NUUS - Die moord van die 49-jarige Wilson Prins, 'n geliefde en gerespekteerde evangelis van Matjiesrivier buite Oudtshoorn, het soos die afgelope 14 moorde oor die laaste sewe maande in die Groter Oudtshoorn-omgewing, skok en hartseer by inwoners van die Klein-Karoo ontlok. Prins se moord bring die totaal te staan op 15.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is Prins Saterdag (29 Julie) omstreeks 20:50 in Matjiesrivier dood.
"Daar word beweer dat daar 'n stoeiery tussen 'n groep mense ontstaan het waarna die slagoffer 'n oop wond aan sy kop opgedoen het. Hy is later deur paramedici dood verklaar. 'n 40-jarige verdagte is op aanklag van moord in hegtenis geneem," het Spies gesê.
Spies het bygevoeg dat die verdagte Maandag (31 Julie) in die Oudtshoorn-landdroshof sou verskyn en dat die ondersoek rakende die voorval voortduur.
Leon Campher van Oudtshoorn Community Against Crime, en raadslid van die plaaslike munisipaliteit, het gesê dat Prins se moeder geweldig getraumatiseerd is met die skielike dood van haar seun. Prins was bekend in kerkkringe in die omgewing.
Campher het 'n versoek aan inwoners gerig om saam te staan sodat moorde in die dorp gestop kan word.
Gillian Carolus het op Facebook geskryf hoe stukkend die gemeenskap se harte oor Prins se moord is. "Hy was ons geestelike seun en aan die brand vir die Here," het sy gesê. Volgens Carolus het Prins na sy bekering as jongman uiteindelik die eerste evangelis van die Ambassador Pinkster Kerk geword. "Sy dood is 'n groot verlies. Onlangs met my verjaarsdag het Wilson vir my 'n boodskap gestuur en belowe hy sal kom kuier. Ons sal mekaar weer ontmoet."
Oudtshoorn Courant het in 'n navraag aan die Oudtshoorn-stasiebevelvoerder die volgende gevra:
- Is die Oudtshoorn-polisie daadwerklik besig om hierdie kwessie van moorde in die Groter Oudtshoorn aan te spreek en hoe?
- Is daar enigsins 'n aanduiding hoekom hierdie moorde nou so gereeld plaasvind?
- En is dit moontlik om syfers te vergelyk met dieselfde tydperk verlede jaar - het die moordsyfer gestyg?
In sy terugvoer het Spies (Suid-Kaapse polisiewoordvoerder), beaam dat daar slegs 11 moorde in Oudtshoorn self gerapporteer is en dat ondersoeke gelei het na inhegtenisname in elke geval.
"Ons wil die publiek verseker dat veldtogte onder 'Operation Shanela' onlangs van stapel gestuur is om voorvalle van ernstige en gewelddadige misdade hok te slaan. Hierdie operasies sluit die ontplooiing van hulpbronne tydens hoë misdaadfrekwensies tussen Donderdae en Maandae in. Die ontplooiing van verskeie polisie-eenhede werp reeds vrugte af en dit sal in stand gehou word," het hy bygevoeg.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’