OUDTSHOORN NUUS - Die Chanel-modehuis se besluit om voortaan geen eksotiese leer te gebruik in die vervaardiging van produkte nie, het geen negatiewe uitwerking op Klein Karoo Internasionaal (KKI) se uitvoer van krokodilleer nie.
Dié modehuis het onlangs bekend gemaak dat die velle van ondermeer krokodille, akkedisse, slange en pylsterte nie meer gebruik word vir die vervaardiging van jasse, skoene of handsakke nie.
Handsakke wat van die velle van luislange gemaak is, is verlede week van Chanel se webtuiste af verwyder, maar tweedehandse handsakke van luislangvel is steeds op verskeie webtuistes beskikbaar teen meer as die helfte van die prys (€5500).
Chanel se veteraanontwerper Karl Lagerveld het onlangs gesê hulle het besluit om eerder uit vrye wil op te hou om hierdie eksotiese leer te gebruik voordat dit deur diereregte-aktiviste op hulle afgedwing word.
Hy meen sommige luukse handelsmerke ondersoek eerder die moontlikheid om self reptiele te teel vir hul velle sodat hulle weet die diere word onder etiese omstandighede geoes.
Volgens Arno Albertyn, uitvoerende direkteur van KKI se leerafdeling het hulle sowat 10 jaar gelede begin om krokodilleer te bemark om hulle besigheid te differensieer.
"Chanel se besluit raak ons glad nie. Die Europese modehuise stel nie belang in ons krokodilleer nie, en die meeste van ons leer gaan veral na die Oosterse markte. Volgens hom word 95% van KKI se krokodilleer uitgevoer en maak sowat 20% van die totale leeruitvoere uit.
KKI teel nie self krokodille nie, maar koop die velle van verskeie verskaffers oral in Suid-Afrika. Die looiwerk en afwerking word by KKI se eie fasiliteite op Oudtshoorn gedoen. Albertyn sê hulle koop krokodilleer slegs by verskaffers wat die beste bestuurspraktyke volg en hulself verbind tot die hoogste norme vir dierewelsyn.
Intussen het diereregte-groepe soos Humane Society International en Peta hulle vreugde oor Chanel se besluit uitgespreek. "Chanel red tallose krokodille, akkedisse, slange en pylsterte van lyding," het HSI se direkteur, Claire Bass, gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'