OUDTSHOORN NUUS - ACVV Huis Triomf in Oudtshoorn het 'n welkome skenking ontvang van die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers.
Simmers het Woensdag 4 Desember besoek afgelê by Huis Triomf om eerstehands te sien waaroor die organisasie gaan.
Rekenaars wat nie meer deur die Wes-Kaapse regering gebruik word nie is geskenk as 'n poging om bates optimaal te benut. Simmers het ook skoonmaakmiddels, voedsel en skryfbehoeftes oorhandig.
Daar is tans 42 seuns wat in Huis Triomf gehuisves word. Hulle is almal deur die hof in die sorg van die organisasie geplaas. Seuns tussen die ouderdomme van 8 tot 18 jaar word hier geplaas vir veiligheid.
Huis Triomf is in 1991 as 'n NGO geregistreer en hoewel daar voorheen omgesien is na straatkinders, word dit nie meer gedoen nie. Hulle is geregistreer by die departement van sosiale ontwikkeling as 'n kinder- en jeugsentrum en ontvang 'n maandelikse subsidie per kind vanaf die regering. Die toelaag voorsien egter nie aan al die uitgawes nie en is hulle dus afhanklik van skenkings en fondsinsamelingsprojekte. Kinders in Huis Triomf is afkomstig van die Suid-Kaap, Klein- en Groot-Karoo wat Heidelberg, Albertinia, George, Plettenbergbaai, Oudtshoorn, Ladismith, Dysselsdorp en Beaufort-Wes insluit.
Die huis is verdeel in vleuels om die klein en groter seuns vanaf mekaar te skei.
Die doel van Huis Triomf is om altyd kontak tussen ouers en kinders te bewerkstellig, maar word dit gedoen in samewerking met maatskaplike werkers. Gereelde ordelike besoeke word aangemoedig om sodoende familiebande te hernu en te versterk.
Aan die einde van die maand word daar partytjie gehou vir kinders wat daardie maand verjaar het en word 'n verjaarsdagkoek en lekkernye gewoonlik voorsien. Die kinders word ook gereeld op opvoedkundige uitstappies geneem. Die kinders ontvang sakgeld wat hulle leer om met geld te werk. Drie keer per week word toekennings uitgedeel vir die afhandeling van ontwikkelingsprogramme. Oor naweke word daar gebraai en word na rolprente gekyk vir ontspanning.
Kinders wat die ouderdom van 18 bereik moet weer geïntegreer word in die gemeenskap en word hulle by hul ouers of familie teruggeplaas.
Vir meer inligting oor Huis Triomf kan 044 272 3234 of 060 699 5316 gekontak word. Enige donasies is ook welkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’