OUDTSHOORN NUUS - Daar was Dinsdagoggend groot vreugde in die Toekomsrus-gemeenskapsaal toe 50 nuwe huiseienaars hul titelaktes van die Wes-Kaapse minister vir menslike nedersettings, Tertuis Simmers, ontvang het.
Nog 307 nuwe huiseienaars in Fase 3 van die Rose Valley-behuisingsprojek het van Woensdag af hul titelaktes van amptenare van die munisipaliteit ontvang.
"Om jou eie huis te besit is iets om op trots te wees en sekerlik jou kosbaarste besitting," het Simmers gesê
Volgens hom is die oorhandiging van die titelaktes 'n bewys van die Wes-Kaapse regering se verbintenis om so ver moontlik die lewe van inwoners te verbeter en hul waardigheid te herstel.
"Ons strewe is om die waardigheid van mense te herstel en 'n beter lewe vir almal daar te stel en begunstigdes trotse en wettige eienaars van hul huise te maak. Die huis is nou joune en niemand kan dit van jou wegvat nie," het Simmers gesê.
Hy het 'n beroep op die nuwe huiseienaars gedoen om nie hul huise te verhuur as spazawinkels of te verkoop nie.
Volgens hom is 'n titelakte 'n bate wat aangewend kan word om die toekoms van die hele gesin te verbeter. 'n Titelakte gee ook aan die eienaar die geleentheid om sy huis te vergroot.
Hy het die Oudtshoorn-munisipaliteit gelukgewens met die suksesse wat reeds behaal is met behuisingsprojekte en veral lof toegeswaai aan die waarnemende direkteur menslike nedersettings, Shehaan Simms, en haar span.
Volgens die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, was die Rose Valley Fase 3-behuisingsprojek 'n baie suksesvolle een wat lank voor die beplande datum voltooi is. Hy het ook die versekering gegee dat die volgende behuisingsontwikkeling in Rose Valley binnekort sal plaasvind.
"Ons sien nou uit na Fase 4 wat tussen November vanjaar en Februarie 2020 in aanvang sal neem."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'