OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het Oudtshoorn vandeesweek besoek en terselfdertyd die 17de jaarlikse volstruisveiling by Oudtshoorn-navorsingsplaas (proefplaas) geopen.
Hy het in sy toespraak gesê dat boere opreg trots kan wees op 'n wêreldklasvolstruisnavorsingsfasiliteit - die enigste van sy soort wêreldwyd.
"Ons is nou besig om die ekonomie weer stelselmatig in die Wes-Kaap op die been te bring en deel van hierdie veiling is ook om die genetiese materiaal van die volstruise te bevorder," het hy gesê.
"'n Belegging in volstruise en landbou oor die algemeen is beslis van groot waarde om die ekonomiese herstelproses te stimuleer."
Meyer het tydens sy besoek ook die Boerevereniging, Oudtshoorn-sakekamer en Vrouelandbou-unie toegespreek.
Gedurende die veiling is daar 78 jong broeivoëls van die hand gesit wat 36 jong mannetjies en 42 wyfies ingesluit het.
Hierdie volstruise het ongeveer vyf tot ses maande se vere op en is die kuikens van die 2019-seisoen en kan reeds vanjaar al as broeikuddes aangewend word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'