Update
OUDTSHOORN NUUS - Die welkome reën wat die afgelope naweek geval het, het nie ‘n noemenswaardige verskil aan damvlakke gemaak nie.
“Ek is dankbaar om uiteindelik ook ons opgewondenheid oor die reën te kan deel,” se Laubscher Coetzee van Volmoed, by wie dit 26 mm gereen het. “Dit het sag, deurdringend en aanhoudend eenders oor ‘n wye gebied gereën. Die rivier het in die bolope begin loop, en ons bid vir goeie opvolgreëns.”
Sowat 24 mm reën het in Oudtshoorn geval. Volgens Oudtshoorn-munisipaliteit is die Raubenheimerdam se watervlak tans op 34.85% teenoor verlede week se 31,54%.
Waterbeperkings in die dorp bly onveranderd. Die Stompdrift-Kammanassie Watergebruikersvereniging se damme het bietjie water gekry. Volgens Riaan Krüger, bestuurder van die skema, het die Stompdriftdam se vlak van 5.54% tot 5.79% gestyg.
“Die kleiner takriviere loop nog bietjie af,” het Krüger gesê. In die opvangsgebied van die Stompdrift- en Kammanassiedam het dit onderskeidelik 20 en 25 mm gereën.
Die Swartberge het 30 mm gekry en die Outeniquas tussen 55 en 60 mm. By Joubertina het meer as 200 mm in die berge geval.
Die Nelsrivierdam wat water aan die Calitzdorp-munisipaliteit en besproeiingswater aan boere verskaf, se vlak is onveranderd op 13% ten spyte van sowat 20 mm reën in die omgewing. Die Gamkapoortdam tussen Calitzdorp en Ladismith is steeds dolleeg, net soos die Gamkadam by Beaufort-Wes.
Volgens Weeber Truter het dit 60 mm in die omgewing van Herold gereën, terwyl 25 mm op Ladismith 25 mm geval het, 30 mm by Uniondale en 25 – 30 mm by De Rust.
Swartbergpas
Die Swartbergpas is Maandag oopgestel. Alhoewel die meeste sneeu gesmelt het, is die pad verspoel en motoriste word gemaan om nie die pas met gewone passasiersvoertuie aan te pak nie.
Lees 'n verwante artikel: Boetes van R1 000 vir dié wat water mors
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'