OUDTSHOORN NUUS - Millennials is die nuwe toerismemark. Dit is die boodskap waarmee Niel Els, lid van die Oudtshoorn en De Rust-toerismeraad, onlangs teruggekom het van die World Youth Student Travel Congress (WYSTC) in Montreal, Kanada.
Millennials, of Generasie Y word beskryf as die groep individue wat tussen 1980 en 2000 gebore is nou tussen 25 en 35 jaar oud is.
Hierdie ouderdomsgroep se lewensbenadering verskil van die van die Stil Generasie (voor 1934 gebore), Generasie X of Baby Boomers (tussen 1960 en 1980 gebore), en Generasie Z (16 en 25 jaar oud).
Al het Millennials in elke land 'n profiel met eiesoortige kenmerke, is dit belangrik om wêreldstatistiek oor hulle in ag te neem wanneer die Suid-Afrikaanse, en veral toerisme in die Klein-Karoo, in oënskou geneem word met betrekking tot toerisme-bemarking vir die groep.
Millennials word gekenmerk deur selfgesentreerdheid, 'n traak-my-nie-agtige houding teenoor welvaart, miskien omdat hulle redelik welaf grootgeword het, 'n obsessie met belewenisse, en die onmiddellike aandag wat hulle met hierdie belewenisse op sosiale media kan bereik deur 'n selfoon (selfie) of Instagram-foto van hulself te neem, of 'n Facebook-inskrywing te maak wat wêreldwyd gedeel kan word.
Wat is hulle verwagting van 'n reiservaring?
Vir Millennials moet die reiservaring geleentheid skep vir avontuur en 'n lewensveranderende belewenis wat daarmee gepaardgaan.
Die oomblik moet vasgevang kan word op 'n selfoon- of Instagram-foto.
"Vir die Millennials moet 'n ervaring 'instagrammable' wees," sê Els.
"Hulle moet 'n foto van hulself op 'n spesifieke plek waar hulle 'n grootse ervaring beleef het, kan neem."
Hierdie generasie word ook gekenmerk deur 'n sensitiwiteit oor opheffende gemeenskapsprojekte, dierebeskerming en omgewingsbewaring.
"Hierdie ervarings laat hulle voel dat hulle iets merkwaardig vir die wêreld doen deur daar te wees en deel te neem daaraan.
"Hierdie kenmerk het ongelooflike gratis bemarkingswaarde, want daardie foto's word oombliklik wêreldwyd versprei," sê Els.
Dit is ook nie nodig om duur infrastruktuur vir hierdie reisigers te skep nie, want hulle reis met 'n rugsak en bly in sakpak-fasiliteite, waarvan vier in Oudtshoorn bestaan.
Twee instansies, naamlik Buffelsdrift Game Lodge en Cango Wildlife Ranch bied vrywilligerprogramme aan waarvoor die jong besoekers self betaal om deel van te wees.
"'n Verdere voordeel van die mark is dat hulle trou en kinders kry en later met hulle gesinne terugkeer na plekke waar hulle 'n wonderlike ervaring gehad het," sê Els.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'