TUINROETE NUUS - Meer as 120 studente van die Militêre Akademie in Saldanha, die tuiste van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Krygskunde, het vanoggend uit George vertrek vir die vierde been van hul Trans Enduro-uithouren. Hulle oornag vanaand in Stilbaai.
Die Trans Enduro het op Vrydag 29 November in Port Elizabeth begin en deelnemers moet die roete terug na hul basis in nege dae aflê.
Nege spanne neem deel, waaronder 'n land-, hardloop-, fietsry-, see-, logistieke, seine- en mediaspan. Die seespan het vanoggend van Wilderness-strand af weggespring en sal by Mosselbaai aandoen op pad na Stilbaai.
Raadslid Sean Snyman van die George-stadsraad was vanoggend by 'n oggendseremonie by Eden Meander vanwaar die hardloop- en fietsryspanne weggespring het vir hulle skof na Stilbaai. Snyman het die studente verwelkom en hulle aangemoedig om dankbaar te wees vir elke oomblik van hul aktiewe jong lewens en voluit te leef.
Hy het, volgens die Trans Enduro se tradisie, 'n welwillendheidsbrief van die burgemeester van Bitou in ontvangs geneem wat die wedrenleier saamgebring het.
Fietsryers vertrek op hul vierde skof na Stilbaai.
Die Trans Enduro word al vir 37 jaar aangebied met die doel om studente se leierskapsvaardighede te ontwikkel. Hulle beplan en voer die hele operasie self uit. Hulle samel ook geld in vir die Militêre Akademie se Masiza-uitreikprogram wat die geleentheid aan die studente bied om aan sosiale impak-projekte deel te neem.
Op die dorpe waar hulle aandoen, besoek hulle ouetehuise, verf skoolgeboue en maak strate en buurte skoon. In George het hulle die Kekkel en Kraai-creche besoek om die gebou 'n bietjie op te knap. (Masiza is Zoeloe vir 'om te help'.)
Lees meer op susterskoerant, George Herald.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'