OUDTSHOORN NUUS - Milicent Biljohn (31), Mev. Suid-Afrika semifinalis vir 2021, het die kinders van die Polisiehoogte-sopkombuis en nasorgsentrum op haar verjaarsdag besoek en met koek, aartappelskyfies en ander lekker eetgoed bederf.
Sy is daarna ook deur die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) op 'n toer geneem na die leerlooiery van Cape Karoo International (KKI), die wêreld se grootste produsent van volstruisleer.
Biljohn,'n boorling van Oudtshoorn, het die afgelope 21 jaar in Pretoria gewoon, maar verlede jaar na haar geboortedorp teruggekeer.
Sy is getroud met Björn, en hulle is die ouers van drie dogters.
Volgens haar is dit haar passie om vroue en kinders te bemagtig en te help waar mense in nood verkeer.
"Ek glo dat almal dit in die lewe kan maak as jy confident en comfortable in jou eie vel is."
Haar lewensfilosofie is om nie op te gee nie ongeag hoeveel keer jy val en sy hoop om as huidige Mev. SA semifinalis haar gemeenskap trots te maak.
Phillip Seroux, van die sopkombuis en nasorgsentrum, het Biljohn namens die kinders bedank vir haar uitreiking en sterkte toegewens in alles wat sy doen.
Die sopkombuis wat deur Seroux en sy vrou, Susan, bedryf word, het in April vanjaar sy eerste bestaansjaar gevier en verskaf elke dag van die week 'n ete aan ten minste 50 kinders en by die 40 volwassenes.
Dit is afhanklik van skenkings en donasies en mense wat 'n bydrae wil lewer kan Seroux by 079 987 9486 kontak.
Millicent Biljohn saam met die kinders van die Polisiehoogte-sopkombuis en nasorgsentrum in Oudtshoorn. Links staan Phillip Seroux.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'