Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Rose Valley op Oudtshoorn wat aan strafbare manslag skuldig bevind is, is verlede week in die streekhof tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die 25-jarige Denrick Carelsen het op tweede Kersdag 2017 vir Wilfred Heinrich Davids by een van die sogenaamde blinkhokke in Rose Valley met 'n mes gesteek. Carelsen is onskuldig bevind op die hoofklag van moord.
Streeklanddros Neels Nortje het in sy uitspraak gesê dat die hof nie bo redelike twyfel kon bevind dat Carelsen bedoel het om Davids te dood nie.
Dit was 'n enkele steekwond en alles het baie vining gebeur. Hy het egter die oorledene se dood nalatig en wederregtelik veroorsaak. Carelsen het getuig dat Davids hom die betrokke dag met 'n ketting wou slaan toe hy hom by die woning van sy voormalige meisie gekry het. Volgens hom was Davids baie aggressief en wou by hom weet wat hy daar soek.
Hy het 'n mes uitgehaal en na Davids gemik, maar het mis gesteek. Hulle het daarna op die grond begin gestoei waarna Davids die noodlottige steekwond opgedoen het. Die hof het vir vonnisoplegging in ag geneem dat Carelsen geen vorige veroordelings het nie.
Lees 'n vorige artikel: Skuldig na mesdood
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'