'n Nuutgestigte burgerlike organisasie, Residents for Change (R4C) het verlede Maandag by die munisipaliteit aansoek gedoen vir die optog waaraan verskeie organisasies insluitende die DA en Cope sou deelneem.
Volgens die organiseerder van die optog, pastoor Jan Ayford, moes die munisipaliteit binne twee dae 'n driehoekvergadering tussen die munisipaliteit, die polisie en die organiseerders reël om die optog te bespreek. Die vergadering is eers sewe dae later, die afgelope Maandag, gehou.
Volgens Ayford en 'n polisiewoordvoerder was daar Maandag geen sprake van teenkanting teen die optog nie. Die waarnemende munisipale bestuurder, Ron Lottering, het egter Dinsdagmiddag kennis gegee dat die optog onwettig sal wees. Volgens sy kennisgewing het die organiseerders in gebreke gebly om inligting en waarborge vir hul optrede in te dien.
"Dit is absurd," het Ayford Woensdag gesê, "hulle moet ons sewe dae kans gee om die no-dige inligting en dokumentasie in te dien, maar hulle het ons nie eers 'n halwe dag gegee nie."
'n Lid van die polisie het Woensdagoggend gesê dat hulle nie die optog gaan keer nie. "Tydens Maandag se vergadering was daar geen besware teen die optog nie en volgens ons sou dit wettig wees. Die munisipaliteit kan nie op die nippertjie besluit dit is skielik onwettig nie. Ons het die mense ingelig dat die optog onwettig is, maar ons gaan hulle nie keer as hulle ordelik opmars om die memorandum te oorhandig nie."
Met die groep se aankoms by die munisipale kantore is hulle begroet met 'n groot banier wat bokant die ingang gespan was waarop die suksesse van die munisipaliteit aangeteken is. Die skare het luidkeels teen die banier te velde getrek.
Na meer as 'n uur se samedromming voor die gebou het dit duidelik geword dat nie die burgemeester, onderburgemeester of waarnemende munisipale bestuurder bereid was om die memoranda te ontvang nie. Die een memorandum is opgestel deur R4C terwyl die ander een deur die Oudtshoorn-belastingbetalersvereniging opgestel is. In die memoranda word onder andere geëis dat die munisipale bestuur antwoorde verskaf oor onregmatige aanstellings, buitensporige salarisse, onwettige uitgawes en die spandering van 'n lening van R27 miljoen.
Die betogers is vreedsaam uitmekaar nadat 'n polisie-offisier die memoranda in ontvangs geneem het en onderneem het om dit deur amptelike kanale aan die minister te stuur soos wat deur die organiseerders versoek is.
Interdik teen verwydering van raadslede
Intussen is 'n dringende interdik die week by die hoërhof van die Wes-Kaap ingedien om te verhoed dat 11 raadslede van Oudtshoorn verwyder word. Dit volg nadat een Cope- en 10 DA raadslede twee weke gelede verwyder is omdat hulle drie agtereenvolgende vergaderings nie bygewoon het nie.
Die interdik bevraagteken die wettigheid van die komitee wat bevind het dat die raadslede drie vergaderings gemis het en rig ook 'n dringende versoek dat die OVK nie sal toelaat dat nuwe raadslede verkies word of aangestel word nie. Nadat die verwyderde raadslede by drie vorige vergaderings toegang tot die raadsaal geweier is vra die interdik ook dat die hof moet beslis dat die elf nie verhinder mag word om hulle raadspligte uit te voer nie.
Mense wat aan Woensdag se optog deelgeneem het is deur hierdie banier bokant die ingang tot die munisipaliteit begroet.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'