OUDTSHOORN NUUS - Die publiek word aangemoedig om ontevredenheid met diens deur die polisie aan te meld. Hierdie versoek van die polisie word deur brigadier Levona Januari, stasiebevelvoerder van Oudtshoorn, ondersteun.
"Die polisie is hier om te dien en as u nie tevrede is met die diens wat u van ‘n polisielid ontvang nie, meld dit asseblief aan sodat dit ondersoek kan word."
Daar is spesifiek stappe wat gevolg moet word wanneer klagtes aangemeld word. Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die eerste stap om 'n klagte by die skofbevelvoerder aan te meld onder wie se bevel die polisielid ten tyde van die voorval was.
"Elke skof het ‘n bevelvoerder aan diens. Die bevelvoerder van die skof se selfoonnommer is beskikbaar by die polisiestasie."
Visser sê indien die klaer nie tevrede is met die reaksie nadat dit by die skofbevelvoerder aangemeld is nie kan die klaer 'n afspraak maak met kapt. Beverley Booysen by 044 203 9109. Haar kantoor is op die tweede vloer by die polisiestasie in Baron van Reedestraat.
"Kaptein Booysen sal u dan na die bevelvoerder van Vispol (sigbare polisiëring) of die ondersteuningsdienste verwys."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'