KANNALAND NUUS - Arno Meintjies, leerder van Ladismith Sekondêr, is 'n skralerige skaam seun van Kannaland wat besig is om die atletiekwêreld aan die brand te hardloop.
Meintjies is onlangs opgeneem in die SWD-atletiekspan wat vanaf 23 tot 25 Maart aan die ASA atletiekbyeenkoms in KwaZulu-Natal gaan deelneem.
Sy insluiting in die SWD-span volg nadat hy op 18 Februarie vir die Kannalandse-atletiekspan aan die interskolebyeenkoms vir hoërskole in Oudtshoorn deelgeneem het. Meintjies se held is die voormalige internasionale naelloopsensasie, Usain Bolt, en net soos Bolt, is die 100 m en 200 m sy gunsteling baanitems.
Hy vertel dat waar hy verlede jaar senuagtig was, hy vanjaar oorgehaal was om sy beste te lewer.
"Ek het hard geoefen, en my broer Yonnique en van my vriende, het met my voorbereiding gehelp. Ek het ook my dieet dopgehou," sê die beskeie seun van Godfrey en Liana Meintjies van Ladismith.
Arnie se beste tyd in Oudtshoorn was 11,31 sekondes in die 100 m-seuns o. 16.
Meintjies se ouers sê dat hulle hom in alles ondersteun en probeer om elke byeenkoms waaraan hy deelneem, by te woon.
"Die plan is ook om die byeenkoms in KwaZulu-Natal by te woon. Ons is trots op ons seun, maar ons sê ook aan hom dat sou hy 'n af dag beleef, hy steeds ons seun bly. Daar gaan definitief kostes betrokke wees om Meintjies in Pietermaritzburg te kry en is ons dankbaar dat Ladismith Sekondêr ook 'n bydrae gaan lewer," sê sy pa, Godfrey Meintjies.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'