OUDTSHOORN NUUS - Die ligte vliegtuig wat Saterdag 22 Maart op 'n koppie langs Karee Kammaweg in die Klein-Karoo naby Van Wyksdorp "neergestort" het, het glo 'n meganiese afwyking gehad.
Dit volgens Sisa Majola, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Burgerlug-vaartowerheid (SACAA).
Dié ongeluk het op dieselfde dag plaasgevind as die tragiese ongeluk waarin James O'Connell in Saldanha oorlede is.
Polisie en nooddienste was vinnig op die toneel.
Volgens 'n inwoner, wat naby die toneel woon, was dit vir hom vreemd dat die vlieënier nie 'n noodlanding gedoen het voordat hy op die koppie neergestort het nie. Daar is sowat 3 km plat grondgebied voor die plek van die ongeluk.
Volgens Majola is die ongevalle- en insidente-ondersoekafdeling (AIID) bewus van die voorval en het hulle 'n ondersoek van stapel gestuur.
Die vliegtuig, 'n Beechcraft Bonanza (Registrasie: ZS-FFG), was besig met 'n privaat vlug vanaf Mosselbaai-vliegveld. Daar was een vlieënier en twee passasiers aan boord, met die plan om terug te keer na Mosselbaai vir landing.
Majola het bevestig dat die vlieënier 'n meganiese afwyking aangemeld het en besluit het om 'n noodlanding uit te voer. Die vliegtuig het aansienlike skade opgedoen, maar niemand is beseer nie.
Die wrak is nog nie herwin nie, en 'n voorlopige verslag oor die voorval sal binne 30 dae vanaf die dag van die ongeluk op die SACAA se webwerf gepubliseer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’