OUDTSHOORN NUUS - Christopher Smith (85), alombekend as Meester Christy, is na ‘n maand in die hospitaal op 29 Januarie oorlede en word komende Saterdag ter ruste gelê.
Hy was 'n oudonderwyser aan die destydse St. Simons Anglikaanse Skool in Jubileestraat, Oudtshoorn. Smith was ‘n kuns- skrif- en Afrikaans-onderwyser wat sy onderwysopleiding aan die Johannesburg Kollege ontvang het.
Hy was ten tyde van sy aftrede 'n onderwyser by De Villiers Primêr.
Smith en sy vrou, Felicity, het kort voor sy dood hul 59ste huweliksherdenking gevier. Die egpaar het vier dogters.
Volgens hul tweede oudste dogter, Nadine Clark, was haar pa ‘n baie kreatiewe persoon met ’n groot liefde vir kuns. Hy het selfs in 2016 ‘n kortverhaal geskryf getiteld My oupa se Engel wat hulle beplan om te laat druk.
Hy was diep betrokke by sy kerk as lid van die kerkraad en superintendent van die kerk en streek se Sondagskool.
“My pa het dikwels met jong mans wat nie meer ‘n pa gehad het nie gesprek gevoer omdat hy self op ‘n jong ouderdom sy eie pa verloor het. Hy was ‘n omgeemens wat net altyd wou gee waar hy die nood gesien het.”
Hy laat sy vrou Felicity, vier dogters, Karen, Nadine, Sanchia, Thea, twee skoonseuns, ses kleinkinders en drie agterkleinkinders agter.
Hy word Saterdag om 10:00 vanuit die St. Simons Anglikaanse Kerk begrawe. Die huisdiens vind plaas by Pearlweg 42, Colridge View en begin om 09:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’