Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Die oudste Wicomb, die merkwaardige “Meester Ampie” is vroeg vanoggend, 19 Augustus, na ‘n kort siekbed in die hospitaal oorlede. Hy was 103 jaar oud.
Adam Frederick Wicomb, is op 20 Desember 1920 op Matjiesrivier gebore.
Hy was tien jaar oud toe sy pa oorlede is en sy ma vir hom, sy twee broers en twee susters, onder moeilike omstandighede alleen moes grootmaak.
Hy was in 1940 een van die eerste leerlinge van die Hoërskool Môrester op Oudtshoorn en die volgende jaar die eerste een wat die junior sertifikaat met ‘n eersteklas geslaag het.
In dieselfde jaar het die hoof van Môrester vir hom ‘n werkie by die Methodiste Kerk gekry om sakgeld te verdien.
Sy taak was om Sondae die orrel met die hand te pomp anders is daar geen klank. Daarvoor het hy12 sjielings en ‘n sikspens per maand verdien.
Hy het hom in 1943 as onderwyser aan die destydse Athlone Onderwys Instituut in die Paarl bekwaam en die volgende jaar op Ladismith begin skoolhou waar hy sy vrou, Maggy, ontmoet het.
Hy het in 1981na 24 jaar as hoof van die Vlakteplaas UCC Primêre Skool die tuig na 38 jaar in die onderwys, neergelê.
Hy het vir baie jare op kerkrade van die Congregational Kerk gedien. Eers op Dysselsdorp, daarna Oudtshoorn en vanaf 1985 diaken van die Weyers Memorial United Congregational Kerk totdat hy in 1992 tot lewenslange ere-diaken vereer is.
Hy was een van die stigterlede van dié kerk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’