OUDTSHOORN NEWS - Net meer as 250 familielede, onder wie die merkwaardige 102-jarige Adam (Ampie) Wicomb van Oudtshoorn, oudste van die familie, het die afgelope naweek die 12de familiesaamtrek by die Calitzdorpwarmwaterbron bygewoon.
Daar was ook drie familielede wat spesiaal van Nieu Seeland en Australië gekom het. Die eerste saamtrek is in 1992 in De Hoek gehou en die 11de in 2018 by die Spa.
Volgens die voorsitter van die Oudtshoornreëlingskomitee, Jonathan Wicomb, was daar groot opgewondenheid oor die 12de saamtrek, wat in 2020 weens die Covid 19-pandemie gekanselleer moes word.
Hy het sy dank aan die Wes- en Oos-Kaap komitees uitgespreek vir hul bydrae tot so ‘n suksesvolle saamtrek. Volgens hom was dit veral verblydend om so baie jongmense by vanjaar se saamtrek te sien en het hulle aangemoedig om met nuwe idees na vore te kom vir die volgende reünie.
Hoogtepunte by vanjaar se saamtrek was die verering van tien familielede ouer as 80 jaar met spesiale sertifikate van waardering uit erkenning vir die rol wat hulle in die familie se lewens speel, asook die eerste Wicomb Amazing Race, aangebied deur die Wes-Kaap, wat vir groot opwinding gesorg en waaraan groot en klein Garnett WIcomb Oudtshoorn se Wicombs. kon deelneem.
Tydens Sondag se tradisionele dankseggingsdiens, waartydens Jenny Swigelaar die boodskap gebring het met die tema, Dankbaarheid, is kerse aangesteek vir familielede wat sedert die laaste saamtrek in 2018 oorlede is en veral dié wat weens Covid gesterf het.
Die oudste Wicomb het die leiers van die onderskeie komitees geloof vir die wonderlike werk wat hulle doen en gesê dat niks sonder God gedoen kan word nie, en ons voorouers nie vergeet moet word nie. “Die Wicomb-familiesaamtrek, kom uit ‘n eenvoudige droom van baie jare gelede oor waarom die dood families bymekaar moet bring en daar nie ‘n ander manier is nie.”
Hy het ook almal daaraan herinner dat jou dae verleng sal word indien jy jou ouers eer soos die Bybel dit voorskryf. Na die eerste Wicomb-familiesaamtrek in 1992 het al hoe meer families besluit om saamtrekke te hou en familiebande te verstewig.
Ebrahim Wicomb, van die Oos-Kaap het gesê hy het gevrees dat Covid die saamtrek sal laat doodgaan, maar dat dit het nie gebeur nie. Volgens Petula Carelse van die Kaapstad reëlingskomitee is elke saamtrek spesiaal omdat jy elke keer nuwe familielede ontmoet. Noelene Wicomb, voorsitter van die WesKaap, het gesê sy is weereens getref deur gees van die saamtrek.
“Almal het dieselfde geaardheid,” het sy gesê. Die 89-jarige Simon Swigelaar het ‘n beroep op die jonger geslag gedoen om goed te kyk na hul ouers en dat hy trots is om deel van dié familie te wees. Die 13de Wicomb-familiesaamtrek word vir 2025 beplan.
Oudtshoorn se Wicombs.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’