OUDTSHOORN NUUS - Twee vroue van Oudtshoorn, Leanda van den Berg (56) en Christina Gorgens (57), wat deur Media24 aangekla word na hulle na bewering Media24 se publikasies, wat boeke, tydskrifte en koerante insluit, op WhatsApp-groepe versprei het, se saak is na 29 Januarie uitgestel om op die hofrol geplaas te word.
Oudtshoorn Courant het verlede jaar berig dat die twee vroue na bewering administrateurs van 'n WhatsApp-groep was wat PDF-weergawes van die publikasies gratis versprei het. Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, het aan Oudtshoorn Courant gesê hulle het navorsing gedoen en die groepe deurentyd oor 'n tydperk van twee jaar gemonitor.
"Hierdie spesifieke groep was nie net een van die grootstes nie, maar ook een van die mees blatante in hul voortgesette verspreiding van Media24 se publikasies. Omdat die pleidooie en veldtogte blyk op dowe ore te geval het, het ons geen ander keuse gehad as om ons tot die hof te wend nie - en ons moes iewers begin," het hy verduidelik.
Volgens hom weet hulle nie waar die vroue aan die PDF-publikasies gekom het nie. Davidson sê hulle het verskeie veldtogte gehad wat op alle verbruikers gemik was, met die hoofboodskap dat die onregmatige verspreiding van hul publikasies op diefstal neerkom.
Volgens Davidson het Van den Berg en Gorgens tot 18 Januarie gehad om aan te dui of hulle die saak gaan verdedig.
"Nie een van hulle het nie. Die saak word dus op die rol geplaas om 29 Januarie aangehoor te word."
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’