Update
CALITZDORP NUUS - Die gemeenskap is steeds geskok na die dood van 'n 17-jarige matrikulant, Hershelle Willemse, die afgelope naweek.
Willemse en nog 'n persoon was Sondagoggend in 'n motorongeluk in 'n munisipale bakkie in die dorp se hoofstraat betrokke.
Die ander persoon is ernstig beseer en word in die hospitaal vir sy beserings behandel. Gerurgte dat daar nog mense in die voertuig was, kon nie bevestig word nie.
Kaptein Ian Meyer, stasiebevelvoerder van die Calitzdorp-polisiestasie, het Sondag aan Oudtshoorn Courant gesê die ongeluk het om ongeveer 03:45 Sondagoggend gebeur.
"Die bestuurder van die bakkie het glo in Voortrekkerweg gery en beheer oor die voertuig verloor waarna die bakkie in die kliniek se muur vasgery het. Die seun het uit die bakkie geval en is op die toneel dood verklaar. Die ander persoon is per ambulans na die hospitaal geneem. 'n Klag van diefstal word ondersoek na die munisipale voertuig as gesteel aangemeld is."
Willemse se ouers het Dinsdag aan Oudtshoorn Courant gesê dat hul seun 'n blink toekoms gehad het. Volgens sy pa, Johan Gauls, was hy 'n belowende rugbyspeler.
"Hy het saam met sy ma in die dorp gebly. Hy was 'n slim seun wat in rugby uitgeblink het. Hy het mooi maniere gehad en was geliefd deur almal wat hom geken het. Hy was die tweede oudste van vier broers."
Volgens Gauls lyk dit of meer mense by die ongeluk betrokke was.
"Dit is tragies om te dink dat daar nog mense betrokke was, maar dat hulle weggehardloop het, terwyl een van hul vriende sy lewe verloor het."
Die oorledene se ma, Nicolene Willemse, het gesê sy het haar seun die Sondagoggend die laaste keer gesien.
"Na die ongeluk het hy het op die stretcher gelê toe ek by die toneel aankom. Ek het mooi gevra of ek hom nie asseblief 'n laaste keer kan sien nie. Ek het die kombers opgelig en na my kind gekyk. Dit het gelyk of hy 'n rugbywedstryd gespeel het. Hy het net 'n paar snytjies in sy gesig gehad. Dit was vreeslik om te weet ek sou hom nooit weer sien nie."
Volgens haar het hy SWD-kleure in rugby verwerf en vir Hoërskool Calitzdorp as agtste man en kaptein van die eerste span uitgedraf.
"Hy was trots op wat hy bereik het. Hy het baie planne vir die toekoms gehad, maar sy hart was eintlik in landbou. Hy was mal oor boer. Hy het vakansies op 'n uieplaas gewerk."
Willemse sê wat haar die meeste van die tragedie getref het was hoe geliefd haar seun werklik was.
"Ek het nooit geweet hy het so baie vriende gehad nie. Van Sondag af het so baie mense by die huis opgedaag. En almal was regtig lief vir hom."
Hershelle word oor twee weke eers begrawe omdat sy ouers wag vir die ondersoek om gefinaliseer te word. Volgens 'n verklaring van Roland Butler, waarnemende munisipale bestuurder van die Kannaland-munisipaliteit, was die bakkie by 'n munisipale werker wat op bystand was, se huis geparkeer.
"Daar is verskeie artikels waaronder varkkos op die toneel gevind. Volgens die munisipaliteit se kliëntesorgstelsel was daar nie 'n oproep vir na-ure dienste wat gelewer moes word nie en dit kan ernstige gevolge vir die verantwoordelike beampte inhou. Die munisipaliteit sal ook 'n interne ondersoek doen wat moontlik tugstappe tot gevolg kan hê. Die publiek sal op hoogte gehou word."
Die bakkie het op sy sy te lande gekom.
Die toneel Sondagoggend terwyl nooddienspersoneel met opruimings besig was.
Die toneel Sondagoggend terwyl nooddienspersoneel met opruimings besig was.
Vorige artikel: Ongeluk in Calitzdorp eis 17-jarige
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'