OUDTSHOORN NUUS - ‘n Massa-optog van mans word vir 10 Desember beplan. Volgens Hannes Visser, woordvoerder van burgemeester Chris Macpherson se kantoor, het Macpherson tydens die Men in the Mirror konferensie op 9 November onderneem om ‘n massa-optog van mans te reël om teenstand teen geslagsgebaseerde geweld te toon.
“Die optog word beplan vir Saterdagoggend 10 Desember om 09:00 en besonderhede van die roete en program sal teen Vrydag 2 Desember bekend gestel word.”
Die voorlopige beginpunt is die Bridgton-polisiestasie en die eindpunt is by die Bridgton-sportgronde waar ‘n memorandum wat deur mans onderteken is, aan vroue oorhandig sal word. Die optog word gereël in samewerking met verskeie oranisasies wat die polisie insluit.
“Ek doen nou reeds ‘n beroep op alle mans en jongelinge om by ons aan te sluit en vir die gemeenskap te wys dat ons ‘n standpunt inneem teen geweld teenoor vrouens en kinders,” het die burgemeester Dinsdag gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'