OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) het onlangs 'n manne-ontbyt in Bongolethu by die Thusong-sentrum aangebied waar hulle op die rol van 'n pa in 'n kind se lewe gefokus het.
Biskop Menno Rose, van Kaapstad, het tydens die ontbyt gesê dat dit vaders se plig is om hul primêre verantwoordelikheid na te kom.Volgens hom is dit om te beskerm, te dissiplineer en om te voorsien.
Volgens Rose is daar 'n tendens in gemeen-skappe dat pa's afwesig is in hul kinders se lewens.
Rose sê dit is volgens die Bybel alle pa's se verantwoordelikheid om hul kinders op te voed en te onderrig in die rigting wat hulle moet loop.
"As 'n pa is jy jou kind se eerste onderwyser en mentor en jou gedrag sal deur hulle gevolg word."
Volgens Patrick Blaauw, voorsitter van die Oudtshoorn Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) veroorsaak afwesige pa's 'n tsunami van uitdagings in huishoudings en gemeenskappe.
"Kinders het dan nie 'n rolmodel waarna hulle kan opsien nie. Hulle verloor hoop, ontwikkel 'n minderwaardigheidskompleks en word gou negatief beïnvloed," het Blaauw gesê.
Die projekbestuurder van die forum, Phillip Seroux, het sy dank uitgespreek teenoor die Oudtshoorn-munisipaliteit, CP Nel-museum en Famsa Karoo wat die ontbyt geborg het.
Die Gospelsanger, Wallie Pacs van George, was die gaskunstenaar vir die oggend.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'