Die Oudtshoorn Courant het verlede jaar in September berig oor die gat op die sypaadjie in Langenhovenweg voor die Olea en Spensgoed winkel waar 'n besoeker deur 'n tydelike deksel geval het en homself beseer het. Die winkeleienaars het vir veiligheid hulle winkel se advertensiebord oor die gat laat staan en 'n R500 boete by wetstoepassers vir hul moeite gekry.
Die boete is teruggetrek en tydelike betonstawe is oor die gat geplaas nadat dit deur die Oudtshoorn Courant aangemeld is. Sedertdien is daar egter nooit 'n permanente deksel vir die gat gemaak nie en 'n tydelike deksel van 'n swak sement en polistireenmengsel is weer oor die gat geplaas.
'n Graad 5- leerder van Laerskool Park, Divan Oosthuizen, het sowat drie weke gelede tydens 'n landsdienskamp in Oudtshoorn op die swak deksel getrap en ook in die gat geval. Hy is met 'n groot oop wond aan sy been hospitaal toe geneem.
Divan se ma het hierdie week gesê dat hulle mediese koste begin ophoop aangesien die wond nie wil genees nie. Die gevaarlike gat is verlede week weereens onder die aandag van die munisipaliteit gebring, maar is steeds oop. Die eienaars van die winkel het wel bevestig dat munisipale amptenare die gat besoek het en afmetings geneem het. Daar is verlede jaar aan die Oudtshoorn Courant gesê dat 'n deksel van beton vir die gat gegiet sou word aangesien die oorspronklike ysterdeksel gesteel is.

Die gat is sedert verlede jaar slegs tydelik bedek en het al tot twee beserings gelei.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'