LADISMITH NUUS - Lede van die Tuinroete-blitspatrollie en die Ladismith-polisie, het Saterdag inligting ontvang van dwelms wat na die Suid-Kaap op pad is.
Volgens sers. Christopher Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, was die lede strategies op die R62 tussen Ladismith en Barrydale geposisioneer.
"Die lede het 'n Quantum-bussie gestop en deursoek. Daar is 1 006 Mandrax-tablette en 120 gram tik met 'n straat waarde van R92 000 in die bussie gevind. "n Man is vir handel in dwelms in hegtenis geneem."
Volgens Spies dui voorlopige ondersoeke daarop dat die dwelms vir Calitzdorp bestem was.
"Die verdagte is van Stellenbosch en sal Maandag in die Ladismith-landdroshof verskyn."
Lees meer in Donderdag se Oudtshoorn Courant, as ook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'