OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Oudtshoorn, met 'n misdaadrekord van 14 vorige veroordelings, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof 15 jaar tronkstraf opgelê van die moord op sy neef.
Jonathan van Beulen (36) het onskuldig gepleit omdat hy nie bedoel het om sy neef, Jan Maswattie, dood te maak nie.
Volgens Van Beulen het hy en 'n vriend op 27 Januarie 2017 drie biere gedrink waarna hy na sy niggie se huis in Rosebank gegaan het.
Daar was hy en die oorledene in 'n woordewisseling oor dwelms toe die oorledene glo met 'n halwe kapmes na hom gekap het.
Hy het 'n mes gegryp en Maswattie een keer gesteek.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof gevra om Van Beulen se getuienis te verwerp en hom die minimum vonnis op te lê omdat hy nie 'n eerste oortreder is nie.
Die saak het voor streeklanddros JC Nortje gedien.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'