OUDTSHOORN NUUS - Een van drie mans van Oudtshoorn wat daarvan aangekla is dat hulle by ‘n huis in Baron van Rheedestraat ingebreek en items van meer as R21 000 gesteel het, is in die streekhof vrygespreek en ontslaan terwyl die ander twee onderskeidelik tot ses en vier jaar gevangenisstraf gevonnis is.
Streeklanddros Retha Pretorius het in haar uitspraak gesê dat die staat nie bo redelike twyfel kon bewys dat Reagan Michaels skuldig is nie en hom vrygespreek.
Elton Barends is aan huisbraak en diefstal skuldig bevind en Jonathan Ewerts aan die besit van gesteelde goedere.
Die saak spruit uit ‘n voorval op 23 Januarie 2016 toe daar by die woning van Hugo de Wit in Baron van Reedestraat ingebreek en onder andere 'n selfoon ter waarde van R7 000, sleutels van 'n Volkswagen Polo ter waarde van R3 000, 'n rekenaarskyf ter waarde van R1 500,’n kamera ter waarde van R5 000, R200 kontant en 'n knipmes ter waarde van R300 gesteel is. Die drie mans is nog dieselfde dag in hegtenis geneem.
De Wit het getuig dat hy die betrokke dag ‘n venster op ‘n skrefie oop gelos het omdat dit baie warm was en hy gaan slaap het. Toe hy wakker skrik was die voordeur oop en die items weg.
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'