TUINROETE | KAROO NUUS - ‘n Man van Mosselbaai (46), is vandag in die Oudtshoorn-streekhof tot effektief 70 jaar gevangenisstraf op aanklagte van verkragting en seksuele aanranding gevonnis.
Die aanklagte teen die beskuldige spruit uit voorvalle waarby twee slagoffers, toe 10 en 11-jaar-oud, betrokke was.
Die beskuldige is deur die Mosselbaai-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe aangekla nadat dit aan die lig gekom het dat hy tussen 2014 en 2019 twee seuns op verskeie geleenthede seksueel aangerand het of/en verkrag het.
Die beskuldigde was met die slagoffers se ma bevriend en die voorvalle het dikwels by die kinders se huis in Hartenbos plaasgevind.
Die slagoffers se ma het ‘n saak teen die beskuldige by die polisie aanhangig gemaak nadat sy van die misdrywe bewus geword het.
Die beskuldige is vandag tronkstraf van altesaam 90 jaar opgelê. Dit is op aanklagte wat insluit drie verkragtings en drie van seksuele aanranding. Hy is altesaam effektiewe tronkstraf opgelê van 70 jaar en sal minstens 35 jaar tronkstraf moet uitdien voor hy vir parool in aanmerking sal kom.
Die saak is suksesvol ondersoek deur ao Alistair Rezant.
Die ondersoekbeampte in die saak, ao Alistair Rezant word deur die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe se bevelvoerder in Mosselbaai, Kaptein Franco Bestbier geluk gewens met sy puik ondersoek in die saak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’