OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ‘n man van Dysselsdorp, wat daarvan aangekla word dat hy ‘n vrou wat aan hom bekend is, verkrag het, is in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak uitgestel.
Derick August het glo die oggend van 8 Maart 2021 die vrou van agter gegryp, op die grond neergegooi en verkrag. Hy ontken dat dit hy was en voer aan dat die klaer ‘n fout maak met sy identifikasie.
Die vrou het getuig dat sy August goed ken omdat hulle in dieselfde straat woon. Sy het getuig dat sy die betrokke oggend van ‘n kuierplek onderweg was na haar ma se huis in Bokkraal en “liggies” dronk was.
Terwyl August haar verkrag het, het sy hom in die gesig gekyk. Daar was ‘n spreilig en sy het onmiddellik daarna vir haar ma gaan sê dat Derick haar verkrag het.
Hy is nog dieselfde oggend in hegtenis geneem en sy het hom by die polisiestasie uitgeken as die persoon wat haar verkrag het.
August ontken dat hy op die toneel was en wou van die staatsaanklaer weet waarom die klaer nie kan sê watter klere haar verkragter aangehad het nie. Volgens hom ken hy die klaer net van sien.
Sy kom glo ook op ‘n erf waar daar gedrink en gerook word en sy gereeld tik gebruik. Hy het haar glo nog nie sien drink nie.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, versoek die hof om August skuldig te bevind omdat die klaer nie ‘n fout maak met sy identifikasie nie en sy weergawe nie redelik moontlik waar kan wees nie. Die klaer se ma het getuig dat sy huilend, asvaal en vol sand by die huis aangekom en haar meegedeel het dat Derick haar verkrag het.
August se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, vra die hof vir sy vryspraak omdat die klaer ‘n fout maak met sy identifikasie. Volgens hom is die spreilig in die omgewing baie dof.
August het op ‘n vraag van die landdros ontken dat hy en die klaer saam tik gerbruik het.
“Ek het nog nie rêrig met haar kennis gemaak nie,” het August aan die landdros gesê.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en is vir uitspraak tot later die maand uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'