DE RUST - Die verhoor van 'n man wat tereg staan op vier klagtes van aanranding en roof is in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere verhoor tot later die maand uitgestel.
Die 38-jarige Isak Sauls pleit onskuldig en voer aan dat die klaers foute maak met sy indentifikasie.
Jaftha Swartbooi het getuig dat hy en een van die klaers, Danville Konstabel, op 25 Augustus 2019 voor Oupa se Winkel besig was om 'n liter skomfaan te drink toe Sauls vir Konstabel met 'n ou skaapskêr in die voorkop gesteek het.
"Ek ken Sauls as "Boeta" en maak nie 'n fout met sy identifikasie nie," het Swartbooi getuig. Volgens hom het Sauls "sonder rede" vir "Ou Dan" een keer met die skaapskêr gesteek en weggehardloop. "Ou Dan is hospitaal toe en Boeta is die volgende dag gearresteer." Volgens hom was daar nie voorheen probleme tussen hom en Sauls nie.
Volgens Sauls se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, was Sauls nie by die winkel nie en maak Swartbooi 'n "eerlike fout".
'n Tweede klaer, Trevor Potgieter, het getuig dat hy op 13 Julie 2019 onderweg was huis toe toe Sauls hom voorgekeer het en vir 'n sigaret gevra het. Toe hy weier, het Sauls glo met 'n skerp voorwerp na sy been gesteek maar nie raakgesteek nie.
Maria Smith het getuig dat sy vir Sauls al sowat 13 jaar ken en die voorval gesien het. Hy het haar glo uit die tronk gedreig dat hy haar gaan doodmaak. Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is vir verdere getuienis uitgestel tot 20 Januarie. Sauls bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuuste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'