OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man van Prins Albert, met ‘n ellelange lys van vorige veroordelings, wat al by twee vorige geleenthede gewaarsku is dat hy as gewoontemisdadiger verklaar kan word, het verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof uiteindelik die sogenaamde “bloubaadjie” gekry.
Marius Mei (35), wat ook al verskeie kere op parool vrygelaat en dan die voorwaardes verbreek het, is in die landdroshof op Prins Albert aan diefstal skuldig bevind. Die saak is daarna vir vonnis na die streekhof op Oudtshoorn oorgeplaas.
Mei het op 7 Augustus 2020, terwyl hy weer op parool was, in Pep Stores, goedere ter waarde van R355 onder sy klere versteek en uitgestap. Hy is buite die winkel deur sekerheidsbeamptes in hegtenis geneem.
Sy regshulpprokureur, Cindy Murray-Smrih, het die hof meegedeel dat mense tydens die Covid-19-inperking hul werk verloor het en toegegee dat Mei nie ‘n eerste oortreder is nie en Prins Albert ‘n klein gemeenskap is. Mei wou die goedere gaan verkoop om kos te koop. Sy het die hof versoek om ‘n gedeeltelike opgeskorte op te lê omdat Mei se huidige parooltydperk eers in 2025 verstryk.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het gesê dit is duidelik dat Mei uit gewoonte misdaad pleeg. “Sodra die beskuldigde buite is pleeg hy weer misdaad. En die versoek is dat hy tot gewoontemisdadiger verklaar word.”
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê mense soos Mei straf hul eie gemeenskap deurdat winkeleienaars skade ly en dan pryse opskuif.
“Covid-19 is nie enige rede om die tipe misdaad te pleeg nie en gemeenskappe kan die reg in eie hande neem indien oortreders nie swaar gestraf word nie.”
“Die beskuldigde was op parool wat eers in 2025 verstryk en vorige veroordelings tel swaar wanneer dit by vonnisoplegging kom. Hy is al na ‘n verbeteringskool verwys en in 2013 en 2018 gewaarsku dat hy as gewoonte misdadiger verklaar kan word. Dit is duidelik dat hy uit gewoonte misdaad pleeg en ‘n frekwensie toon om te steel,” het die landdros gesê.
Die sogenaamde “bloubaadjie” beteken dat Mei eers na vyftien jaar agter tralies vir parool in aanmerking kom.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'