OUDTSHOORN NUUS - 'n Man wat by 'n vriend in 'n opslaanhut agter 'n woning gekuier het, het verlede Vrydagoggend in die vroeë oggendure doodgebrand nadat 'n brand op dié erf in Petunialaan, Toekomsrus, ontstaan het.
Volgens een van die bewoners op die erf, Henriette Williams, het sy wakker geword toe sy 'n geknetter van vlamme en ruite wat bars, gehoor het.
"Toe ek my venster oopmaak het ek net 'n helder lig gesien en dadelik geweet dat ons almal se lewens in gevaar is. Ek het toe dadelik die honde losgemaak en almal op die erf wakker gemaak om seker te maak hulle is veilig. Baie dankie aan die pad se mense en die brandweer wat erge skade aan die hoofhuis verhoed het."
Volgens Williams was nie sy of haar broer bewus daarvan dat die broer se vriend (die oorledene) in die opslaanhut was nie. Beide opslaanhutte op die erf waar Williams en haar broer afsonderlik gewoon het, is tot op die grond afgebrand. Die huis se agterkant en gedeeltes van al die kamers se plafonne is as gevolg van die vlamme ook beskadig. Niemand anders is gedurende die brand beseer nie. Die verkoolde liggaam is ontdek nadat die brand geblus is.
Beide opslaanhutte is tot op die grond afgebrand. Foto: Wyndham Ewerts
Volgens nog 'n bewoner op die erf moes die brand in een van die opslaanhutte ontstaan het omdat daar die vorige dag geen elektrisiteit was nie.
Sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het op 'n navraag aangedui dat die brand omstreeks 03:15 die Vrydagoggend ontstaan het.
Sy het bevestig dat die polisie die liggaam van 'n persoon gevind het. Alhoewel daar vermoed word dat die oorledene die vriend van Williams se broer was, kon die polisie teen druktyd nog nie die identiteit van die oorledene bevestig nie. Die polisie het 'n geregtelike nadoodse ondersoekdossier geopen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'