OUDTSHOORN NUUS - ’n Man wat by sy vriend in ’n opslaanhut agter ’n woning gekuier het, het vanoggend in die vroeë oggendure doodgebrand nadat ’n brand op dié erf in Petunialaan, Toekomsrus, ontstaan het.
Volgens een van die bewoners op die erf, Henriette Williams, het sy vanoggend omstreeks 00:10 wakker geword toe sy ’n geknetter van hout en vensters wat bars, gehoor het.
"Toe ek my venster oopmaak het ek net ’n helder lig gesien en dadelik geweet dat ons almal se lewens in gevaar is. Ek het toe dadelik die honde losgemaak en almal op die erf wakker gemaak om seker te maak hulle is veilig. Baie dankie aan die pad se mense en die brandweer wat erge skade aan die hoofhuis verhoed het."
Volgens Williams was niemand op die erf, insluitend haar broer, bewus dat sy vriend (die oorledene) in die opslaanhut was nie.
Beide opslaanhutte op die erf waar Williams en haar broer afsonderlik gewoon het, is tot op die grond afgebrand.
Die huis se agterkant en gedeeltes van al die kamers se plafonne is as gevolg van die vlamme ook beskadig.
’n Navraag is aan die Oudtshoorn-polisie gestuur.
Beide opslaanhutte is tot op die grond afgebrand.
Die agterkant van die woning en gedeeltes van die huis se plafon is ook beskadig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'