OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man, wat sy lewensmaat se driejarige kind met 'n sambok geslaan het, is verlede week aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind.
Francois Keyzer (28) het erken dat hy die kind met die sambok op sy sitvlak geslaan het, nadat die kind 'n bord met kos uit sy ma se hande geklap het.
Die kind se ma, Nicolette Rondganger, het getuig dat Keyzer haar bystaan om haar twee kinders groot te maak en pakgee wanneer dit nodig is. Volgens haar was dit 'n klein sambok wat die beskuldigde eintlik net gebruik het om hulle mee skrik te maak.
Streeklanddros, Sylvia Mandla, het bevind dat Keyzer die kind met erge geweld geslaan het en dit nie die manier is om ‘n driejarige te tug nie.
“n Sambok is nie ‘n wettige wapen om enige kind mee pak te gee nie,” het Mandla gesê.
Volgens Mandla het die tenger geboude kind, winterklere aangehad en ten spyte daarvan was die houe op sy lyf duidelik sigbaar. Sy het ook verder aangevoer dat kinders verskillend reageer, en die vraag is waarom die beskuldigde die kind geslaan het.
Volgens Keyzer se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, bly die beskuldigde en die familie steeds saam, en dat hy die enigste broodwinner is.
Staatsaanklaer, Brandon Smith, het ook genoem dat Keyzer geen vorige veroordelings teen hom het nie.
Vonnisverrigtinge is vir korrektiewe- en proefbeampteverslae tot 28 Junie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'