OUDTSHOORN NUUS - Vonnisverrigtinge in die saak teen ‘n man van Dysselsdorp, wat op 17 Junie 2022 ‘n ongeluk op die Calitzdorp-pad veroorsaak het, wat tot die dood van ‘n pa en sy seun gelei het, is verlede Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof tot 20 Maart uitgestel omdat verslae wat aangevra is nog nie vertaal is nie.
Ivan Lewis is skuldig bevind op twee aanklagte van strafbare manslag en een van nalatige bestuur.
Hy erken in ‘n pleitverduideliking dat hy die betrokke dag nalatig bestuur het en die dood van die 44-jarige Casper Oberholzer en sy elfjarige seuntjie van Riversdal veroorsaak het.
Hy was die bestuurder van sy werkgewer se Toyota Hilux-bakkie en het teen ‘n spoed van sowat 100 km/h gery.
Lewis sê in sy pleitverduideliking, wat deur die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, aanvaar is, dat hy hom misgis het met die spoed van ‘n voertuig voor hom en dit getref het. Hy het daarna na regs geswaai en reg van voor met die voertuig van die Oberholzer-gesin gebots.
Lyzette Oberholzer en hul ouer seun Casper (15) het die ongeluk oorleef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’