DYSSELSDORP NUUS - "Die beskuldigde is 'n gevaar vir almal en moet lank uit die gemeenskap geneem word."
So het streeklanddros Ntsoki Moni, verlede Donderdag gesê toe sy 'n man van Dysselsdorp, wat sy lewensmaat en hul 7-jarige seuntjie aan die brand gesteek en die vrou later gesterf het, 38 jaar gevangenisstraf opgelê het.
Gert Malgas (44) is skuldig bevind aan moord, drie aanklagte van poging tot moord, brandstigting, intimidasie en regsverydeling.
Malgas het die aand van 2 Januarie 2018 paraffien op Josephine Jacobs (37), gegooi en haar aan die brand gesteek waar sy op 'n bed saam met hul seuntjie, Gerano, gelê het.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het betoog dat Malgas duidelik 'n gewelddadige persoon is wat vir baie lank uit die gemeenskap geneem moet word. Volgens hom is daar geen wesenlike of dwingende omstandighede om van die voorgeskrewe minimum vonnis vir moord af te wyk nie. Voorts het Malgas 'n ellelange lys van vorige veroordelings.
Sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het betoog dat wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die voorgeskrewe vonnis vir moord af te wyk en vir 'n gebalanseerde vonnis gepleit.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het met vonnisoplegging gesê Malgas toon geen berou nie en het tot die einde onskuldig gepleit. Hy het drie kinders van 'n moeder ontneem.
Die oorledene se dogter, Patricia Jacobs (19), het in 'n slagofferverslag, geskryf dat haar kleinste broertjie, Gerano, steeds wag vir sy moeder.
"Ons is ontneem van 'n ma wat vir ons gesorg het deur 'n man wat nie vir ons omgegee het nie. My droom om my matriekafskeid saam met my ma te vier is aan skerwe."
Sy skryf verder dat sy nou die een is wat moet sterk wees vir haar broertjies wat nou deur hul ouma versorg word.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het met vonnisoplegging gesê Malgas toon geen berou nie en dat sy vorige veroordelings nie 'n lysie is nie, maar 'n klein boekie. Dit is ook duidelik dat vorige vonnisse geen uitwerking op hom gehad het nie.
"Dit blyk dat mans in 'n oorlog teen vroue is en word daar altyd verwys na hoe die beskuldigde grootgeword het. Hoekom nie 'n beter persoon nie?" het sy gevra.
Sy kon geen rede vind om van die minimum vonnis af te wyk nie en Malgas sestien jaar vir moord opgelê omdat hy tot 19 jaar vir 'n eerste moord gevonnis kan word. Hy is tien jaar vir drie aanklagte van poging tot moord opgelê, ses jaar vir brandstigting en drie jaar elk vir intimidasie en regsverydeling.
Die hof het gelas dat die vonnisse vir brandstigting, intimidasie en regsverydeling samelopend uitgedien word vir 'n effektiewe vonnis van 32 jaar agter tralies.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'We bring you the latest Klein Karoo news'