Lisa, 'n leerling van Hoërskool Oudtshoorn, het volgens haar ma Elmarie, van netbal-oefening af na Laerskool van Reede gery toe die voorval gebeur het. Sy sou haar negejarige boetie Andrew by die skool gaan haal het.
"Lisa onthou nie baie nie. Sy onthou sy het uit Langenhovenweg uit regs gedraai in Hoogstraat en voor 'n Toyota gaan staan om te wag vir nog 'n motor om van voor af verby te kom voordat sy regs na die skoolterrein gedraai het. Sy sê toe sy wakker word toe wag sy vir die ambulans om haar te kom haal," vertel die erg ontstelde Elmarie.
Sy sê sy was by die werk toe 'n man haar bel en sê hy het haar dogter raakgery.
"Ek het hom gevra om haar asseblief nie alleen te los nie. Ek moes eers reël met die werk voor ek kon ry. Intussen het ek 'n polisie-vriend van my gebel en hom gesê wat gebeur het. Toe ons op die toneel aankom was die polisie en ambulans reeds daar. Die bromponie het sowat 12 m van haar af gelê. Sy het darem nog haar helmet op gehad. Andrew het aangehardloop gekom en ek het vir hom gesê dit is sy sussie en hy moet terug gaan na die skool toe. Hy het Dinsdag by 'n maatjie gebly en daar oorgeslaap," vertel sy.
Volgens haar het die hospitaal vinnig kom help toe die ambulans met Lisa daar stop.
Elmarie sê haar dogter se regter heup is sleg beseer en haar bekkenbeen het geskuif. Woensdag het sy begin kla oor haar nek wat ook seer is en sy sukkel geweldig om te loop. Haar huisdokter het aan Elmarie gesê dat dit as gevolg van die val is en hy het haar weer ingespuit.
"Lisa mag nóóit gery het voor sy nie haar learners gehad het nie. Sy was ook nooit toegelaat om iemand saam met haar te laat ry voordat sy nie amptelik haar bestuurslisensie gehad het nie. Sy is 'n vreeslike versigtige bestuurder en ry al vir 'n jaar en 'n half met die bromponie. My probleem is net dat dit nie regtig saak maak hoe versigtig die kinders is met die goed nie, motoriste moet ook versigtiger op die paaie wees en tog die bromponies op die paaie in ag neem."
Volgens haar het die bestuurder wel gesê dat hy die onkostes van die bromponie sal dek.
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die voorval be-vestig en gesê dat geen saak ondersoek word nie.
Die agterkant van Lisa-Mari se bromponie is in die ongeluk beskadig
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'